|
Dries Visser is ’n trotse wildboer en het sy kennis van wildboerdery oor ’n leeftyd opgedoen. Hy is in die Molopo, aan die Botswanagrens gebore. Hier het hy tussen duisende stuks wild grootgeword en baie weesdiere met die bottel grootgemaak. Dit is op hierdie jeugdige ouderdom waar sy liefde vir die natuur en wild ontstaan het.
Reeds in 1973 het hy vir hom ’n plaas in die Thabazimbi-bosveld gekoop en dit dadelik wildwerend omhein en met wild begin boer terwyl hy ook nog sy sakebelange in die Vaaldriehoek behartig het. In 1983 het hy sy sakebelange verkoop en voltyds op die plaas kom woon. Vandag, 37 jaar later en met al di jare se wildboerderyondervinding, doen hy geselekteerde intensiewe wildtelery met uitgesoekte diere, saam met sy seun Dries Jr, wat ook die professionele jaggedeelte hanteer, en geniet dit baie.
Hy glo dat die wildboer wat hom uitgee as teler van geselekteerde teeldiere dit nie net vir die geldelike gewin daarvan moet doen nie. Hy moet eerlik en opreg wees, en gehaltediere met uitstaande gene aan ander wildboere te koop bied. Hierna is dit elke gewone wildboer se verantwoordelikheid om toe te sien dat die gene-gehalte van hulle dier op die toegespande plase nie verswak nie, maar verbeter.
Hy is die eienaar van verskeie teeltroppe van die uitsonderlike Zambiese swartwitpens met die giant sable-eienskappe, naamlik swartmaskergesigte en besondere horinglengte. Hierdie diere het hy self ingevoer. Verder boer hy ook intensief met siektevrybuffels van verskillende bloedlyne, want hy glo dat die beste gehalte buffel geteel moet word ongeag of dit uit Oos-Afrika, Kruger of Addo afkomstig is.
Hy teel ook selektief koedoebulle, want hy voorsien ’n groot vraag na goeie gene gaan ontstaan as gevolg van die onoordeelkundige jag daarvan. Die res van sy selektiewe telery bestaan uit goue wildebeeste, swart rooibokke, hartwaterspringbokke en tsessebe.
Belangstellendes is welkom om sy diere te besigtig en kan hom skakel by (014) 779 0644 of 083 295 3190.
Artikels:
So lyk die pragdiere (pdf format 287 kb)
Zambiese Swartwitpense enig in hulle soort - Wild en Jag Junie 2009 (pdf formaat 695 kb)

|